Namibia: Fred Zalokar and John Taniseb

Fred set a new speed record for climbing Brandberg, the high point of Namibia, on June 29, 2015.

Fred Zalokar and John Taniseb 8 hours and 6 minutes to Koningstein and back Congratulations!!!

Amerikaner klim Brandberg in rekordtyd

Des Erasmus – ’n Nuwe bergklimrekord is deur ’n Amerikaner, Fred Zalokar (55), opgestel.
Hy en ’n lid van die Daureb Brandberggidse het die hoogste berg in Namibië van die basis tot by die hoogste spits en terug in agt uur en ses minute geklim.
Zalokar se aanslag op ’n rekord wat op net meer as nege uur gestaan het, is in die teenwoordigheid van Basil Calitz van die Brandberg Ruskamp op Uis gedoen. Calitz het as tydhouer by die Gaaseb-basis aan die voet van die berg opgetree en was by toe Zalokar en die gids, John Taniseb, met die epogmakende tog begin en weer daar geëindig het. Zalokar se vrou, Deb, het saam met Calitz op die twee klimmers gewag.
Nadat die ervare bergklimmer en marathonatleet van Reno in Nevada en Taniseb met die tog begin het, het Deb en Calitz ’n viertrektoer deur een van die kraters van die Namib onderneem. Terug by die Gaaseb-basis het Calitz met ’n vleisbraaivuur begin om die twee klimmers te verwelkom. Die vleis was nie eens naastenby gaar nie toe die twee mans hul opwagting gemaak het.
In Reno is Zalokar bekend as ’n ultra-atleet wat op afstande van 100 km en meer konsentreer. As bergklimmer het hy reeds die hoogste spitse in 120 lande geklim.
Oor die roete het hy gesê hy en Taniseb het op Königstein, die hoogste spits, nog sowat ’n halfuur gerus. Op die terugtog het hulle ook nie gejaag nie. Hy meen persoonlik dat hy tot met ’n uur op sy eie rekord kan verbeter. Die roete wat hulle gevolg het, was van Gaaseb, oor die Longi Pools (’n watergat), Wasserphalfläge tot op Königstein en toe terug.
Sy verblyf op Uis vir die aanslag op die rekord het net twee dae geduur.
In Amerika is Zalokar ’n swembadbouer van beroep.
Reno is op sy beurt bekend as die kleinste stad in Amerika en ’n sentrum van egskeidings. Tradisioneel kos dit paartjies net ’n dag in Reno om te skei. Nadat die paartjies se weë geskei het, word hul ringe in ’n riviertjie gegooi waar delwers dit weer vir ’n inkomste herwin.
Deb is ’n fiksheidsinstrukteur. Volgens haar sien sy ook kans vir die Brandberg, maar sy het doelbewus nie aan die tog deelgeneem nie, omdat sy Zalokar se volle aandag by die rekord wou hou. Read Full Article